top of page

Tien kenmerke van 'n onvergeetlike karakter met "Die fantastiese mevrou Smit" as voorbeeld

Daar is niks so lekker soos 'n boek met 'n behoorlike hoofkarakter nie. 'n Karakter met oemf. 'n Karakter waaroor jy dink lank ná jy al die boek gelees het. Onvergeetlike karakters is die rede waarom reekse so gewild raak.


Hier is tien kenmerke van 'n onvergeetlike karakter, 'n karakter soos mevrou Smit van Elizabeth Wasserman se nuutste roman, Die fantastiese mevrou Smit. En dankie tog die volgende boek in die reeks, Die nege lewens van mevrou Smit, verskyn oor 'n paar maande, want mevrou Smit is nie 'n tannie wat jy sommer eenkant toe skuif nie – soos dit 'n fantastiese, onvergeetlike karakter betaam.



Die fantastiese mevrou Smit open só:

 

“Verdomp.”

Mevrou Smit slaan hard rem aan en die bakkie kom met 'n geskree van rubber op teer tot stilstand.

Die enjin ruk dood.

“Halsstarrige donkie,” brom sy en sukkel met die aansitter. Agter haar lê iemand op 'n toeter. Sy draai die ruit af, druk 'n stewige boarm na buite en volg met die kop. “Kan jy nie sien ek probeer om daai ou feeks en haar brak nie dood te ry nie?”

Die vroutjie wat amper die ongeluk veroorsaak het, het die wolhondjie wat sy onder haar arm vasgeknyp het intussen op die sypaadjie aan die linkerkant neergesit. Sy leun op haar kierie, reg om die bekgeveg te aanskou. Die brak blaf histeries.

“Jy!” gil mevrou Smit wat die ou tante uit die hoek van haar oog raakgesien het. “Dis alles jou skuld. Vir wat loop jy sommer so oor die pad?”

Die tante beduie met haar kierie na die sebrastrepe, reg voor die bakkie se neus.

Die man agter leun weer op sy toeter.

Mevrou Smit is lus om iemand te lyf te gaan. Dis net moeilik om te besluit wie: die ou sening met haar kierie of die swerkater agter haar? Sy gluur briesend in haar spieëltjie. 'n Man met 'n hoed, in 'n Mercedes, nogal.

Vrotsel.

Sy onthou wat haar terapeut voorgestel het. Voorstel is miskien die verkeerde woord. “Luister nou mooi vir my,” het hy gesê, “as jy aanhou om jou humeur so te verloor, is my geld op 'n beroerte. Vraag is net of jy die tronk sal haal voor jou bloeddruk jou deksel afblaas.”

Haar neusvleuels sper en sy haal diep asem. Tel tot twaalf. Tien is nie genoeg vir haar nie.

Dan besoek sy haar plek van rus en vrede, ook volgens die terapeut se raad. Sy maak haar oë toe en leun terug teen die sitplek. Sy roep 'n bergspits op, mis wat onder haar kolk. 'n Arend skree in vlug. Sy steur haar nie aan die Mercedes wat met skreeuende bande aan haar regterkant versnel nie. Sy hoor nie die laaste woedende blaas van die toeter nie.

Die tante verloor belangstelling en skuifel aan.

Iemand klop aan die passasierskant se ruit en stap om na die oop venster aan die bestuurskant.

“Is u orraait, dame?” vra 'n stem, saaklik, maar besorg.

Mevrou Smit se oë vlieg oop, dadelik weer reg vir baklei: “Kan julle my nie verdomp net uitlos nie? Ek mediteer. Mag 'n vrou dan nie onversteurd die uiters stresvolle reis na innerlike vrede onderneem nie?”

“Dame, het u gedrink?”

Met skrefiesoë beskou sy die man in die blou uniform. Sy het 'n nuwe rol om te vertolk en sy kan net so wel nou begin. Bowendien het alkohol nog altyd beter vir haar gewerk as tel tot tien, of bergspitse probeer oproep.

“Boetman, dis hoog tyd.” Sy vroetel in die groot pienk handsak by haar voetruimte van die passasiersitplek en bring 'n halfbottel brandewyn te voorskyn.

Sy het brandewyn begin drink in die Krugerwildtuin. Dis een van die gewoontes wat saam met haar nuwe identiteit gekom het. Sy weet hoe om 'n prop met 'n vinnige beweging af te draai. Voor die verbaasde oë van Aronspoort se enigste konstabel neem sy 'n teug so diep dat haar wange hol trek.

Tevrede breek sy 'n wind op wat konstabel Pieterse in sy gepoleerde stewels laat steier.


 

1. Hoe jou karakter lyk

Hy is lank, met bruin hare en blou oë. Karakterbeskrywings soos hierdie is tog só vervelig. Wat laat jou karakter uitstaan bo die res? En wat word verklap deur haar kleredrag? Mevrou Smit het kortgeknipte sout-en-peper hare, 'n aaklige goueraambril, sy dra vormlose, los klere en lelike Birkenstock-sandale – alles baie sorgvuldig gekies. Want: “Om 'n tannie te wees is 'n fyn kuns en dit het toewyding gekos om dit te bemeester.” Mevrou Smit wil onsigbaar wees. Dít prikkel dadelik jou leser se nuuskierigheid.

 

2. 'n Unieke stem

Gee jou karakter 'n sê-ding, 'n kenmerkende manier van praat. Dink oor wat hulle sê en hoe dit gesê word. “Dis belangrik om aan haarself as 'n tannie te dink: om polisiemanne ‘jong man’ te noem in plaas daarvan om met hulle te flankeer om uit die moeilikheid te kom.” Mevrou Smit se woordgebruik pas by 'n tannie. Maar sy is glad nie 'n gedweë, vaal tannie nie. Sy skel en raas en draai nie doekies om nie. Die wag voor haar mond het lankal gedros. Jy sal haar stem dadelik herken wanneer jy haar op straat hoor.

 

3. 'n Aanknopingspunt met die leser en ander karakters

Ons almal ken 'n tannie. Inteendeel, baie van ons ís 'n tannie! Ons ken mense soos mevrou Smit wat geen takt het nie en gereeld aanstoot gee. Die meeste van ons wens dat ons self die moed het om sonder voorbehoud te sê wat ons dink. Kortom, ons herken iets van onsself in mevrou Smit; daar is 'n aanknopingspunt. Karakters kan nie in 'n vakuum bestaan nie. Jou karakter se optrede beïnvloed nie net die leser nie, maar ook karakters om haar. G’n ordentlike storie bestaan uit slegs 'n protagonis en antagonis nie; dit word bevolk deur verskeie karakters. Mevrou Smit wil nie vriende wees met enige van Aronspoort se inwoners nie. Behalwe miskien dokter Thomas. Die res is heeltyd in haar pad, hulle maak haar vies. “Wat het haar besiel om Aronspoort toe te kom? Die plek is duidelik vol mal mense.” Hoe mevrou Smit ook al voel, sy – en die storie – het al die ander karakters en hul geite nodig. Dit skep konflik en drama en al die dinge wat die leser aanhou lees.

 

4. Interne en eksterne konflik

Karakters wat in mekaar se sake snuffel, veroorsaak konflik. Uiterlike konflik wat uitloop op bekgevegte, ondeurdagte optredes soos om voor konstabels te drink, en gevolge soos om die eerste nag op 'n nuwe dorp in die tronk te slaap – gelukkig 'n “heerlike nagrus”. Innerlike konflik wat jou karakter laat twyfel en wankel en sorg vir emosionele diepte. “Sy het 'n plan en sy moet daarby hou.” Maar: “Nogtans het sy glad nie uitgesien na die eerste nag in haar nuwe huis nie. Dit is so finaal. Sy wou nog vaskleef aan haar herinneringe en aan die limbo van die afgelope maande waarin sy haar transformasie na tannie voltooi het.”

 

5. Sterkpunte en swakpunte

Karakters, net soos almal van ons, moet iets hê waarin hulle uitblink. Of minstens behoorlik kan doen. En dinge wat hulle terughou en pootjie. Hierdie eienskappe moet in diens van die verhaal wees en jou plot vorentoe dryf. Mevrou Smit het 'n humeur en is ongeduldig. Dit laat haar van meet af in die moeilikheid beland. Maar mevrou Smit het 'n gawe om inligting uit te snuffel. En dié gawe kom handig te pas; sy wil immers so gou moontlik 'n moordenaar vastrek.

 

6. Motivering

Jou hoofkarakter wil iets hê, het iets nodig. Alles wat hulle doen, word gedryf deur daardie motivering. Mevrou Smit wil onsigbaar wees. Maar hoe gemaak as jy op 'n lyk afkom in jou nuwe huis? Mevrou Smit wil die moord so gou moontlik oplos sodat die polisie – en almal op Aronspoort – van haar kan vergeet. Alles wat sy doen, word gedryf deur haar behoefte om te verdwyn.

 

7. Vrees

Elke karakter wat sy sout werd is, is bang vir iets. Dalk is dit spinnekoppe. Of hoogtes. Gewoonlik is dit iets veel groter. Dit is die ding wat hulle optrede dryf. Mevrou Smit stap by haar nuwe huis in en tref 'n vrou, morsdood, op haar kombuisvloer aan. “Die rede hoekom sý hier is, is hoofsaaklik om aan die lewe te bly. Paniek oorval haar skielik. Sê nou net ...?”

 

8. 'n Misterie wat jou karakter omring en 'n geheim

Daardie vrees van mevrou Smit laat die leser wonder. Onvergeetlike karakters het gewoonlik iets misterieus aan hulle. Waarom wil mevrou Smit onsigbaar wees? Wie het sy mes in vir haar? Dieselfde ding wat jou hoofkarakter dwing om op te tree (hulle motivering), skep vrae by jou leser wat ons dwing om aan te hou lees. Mevrou Smit het 'n geheim. Een wat sy nie sommer maklik vir iemand op Aronspoort óf die leser gaan onthul nie. Ons word geleidelik met klein stukkies inligting beloon (sy was getroud aan Jerry, Jerry was betrokke by onheilige dinge), maar die groot geheim, die ding wat jou karakter probeer verbloem en motiveer om op te tree, word so lank moontlik van die leser weerhou.

 

9. 'n Geskiedenis

Onvergeetlike karakters het 'n lewe gehad voor die moment waarin die verhaal begin. 'n Lewe waarin daar hoogtepunte en laagtepunte was, 'n lewe wat hulle gevorm het en gemaak het wat hulle vandag is. Soms, soos in die geval van mevrou Smit, slaan daardie vorige lewe deur in die onverwagse, bv. fyn kantonderklere onder skreeulelike sweetpakke, of 'n klomp Krugermunte in haar handsak. Soms sorg die verlede vir trauma en spoke wat jou ry. Jou karakter staan nie los van haar verlede nie; dit het 'n beduidende invloed op haar hede en haar optrede.

 

10. Ruimte om te ontwikkel

Die mees interessante karakters het ruimte om te ontwikkel. Die gebeure van die verhaal laat hulle nie onaangeraak nie. Dit verander hulle. Hoe dan anders? Dink aan al die emosies, die opbou van spanning, die drama waardeur hulle gaan. Dink aan die interaksie met al die ander inwoners: Loretta, mevrou Dominee, Bart, tannie Annatjie, Hannelie van dokter Tomas se spreekkamer, dokter Tomas self. Al die flirtasies, die woordewisselings, die angs en onsekerheid. Die vermoorde vrou in haar kombuis! Mevrou Smit moet dan selfs 'n ystervark melk voer! Nee wat, g’n mens kan hierdeur onaangeraak bly nie. Só 'n storie verander jou – dit is die belofte vir jou leser. Dit is die rede waarom ek nie kan wag vir die volgende boek nie: Die nege lewens van mevrou Smit.

 

Koop Die fantastiese mevrou Smit HIER.

 

124 views2 comments

2 commenti


Membro sconosciuto
22 gen

Só lyk die volgende avontuur van mevrou Smit wat in Mei 2024 verskyn. (Bestel die boek solank vooruit by jou boekwinkel.)


Mi piace

Membro sconosciuto
22 gen

Wat 'n leersame stuk! Dankie!

Mi piace
bottom of page