top of page

Storietyd: Sprokies en stetsons, Elfrieda Havenga

Die voordeel van menopouse is die feit dat jy weet jou tyd op aarde nou veel korter is en elke minuut tel.



Greta se kop stamp teen die sitplek voor haar in die taxi. Die aarde draai en sy sien sterretjies. Ag nee, al weer 'n voetganger wat nie New York se padreëls ken nie!

Sy kreun. “Eina.” Sy is juis menopousaal en elke werkende breinsel tel.

Die taxi se deur langs haar word van buite af oopgeruk en sy kyk op. Sy verdrink dadelik in die blougroen oë van 'n man wat definitief op 'n Hollywood filmskerm hoort.

“Is jy okei?” vra hy met 'n diep Texas rol in sy stem.

“Ek is nou, ja.” Dit is al wat sy kortasem uitkry.

Hy is ten minste vyftien jaar jonger as sy en vol spiere en tatoes. Hy glimlag en haar bene word lam. Miskien moet sy tog maar 911 skakel – daar is groot fout met haar lyf.

“Donner, maar jy is beeldskoon. My Valentyngeskenkie van die gode.” Met 'n glinstering in sy oë buk hy dieper in die taxi in en sy warm lippe druk intiem teen hare. 'n Stroom elektrisiteit smelt hulle drade saam.

Toeters vul die lug met frustrasie en ruk hulle uitmekaar. Die taxibestuurder kyk ongeduldig om na haar. Die Texan kom weer regop langs die taxi, druk die deur toe en slaan dan hard op die dak. Sy waai nog verdwaas haar hand in die rigting van die beeld van 'n man. Die held van elke Romanza wat sy al gelees het. Die bestuurder versnel en volg weer die rits New York taxi’s straataf.


Tien minute later stap Greta 'n deftige restaurant binne. Sy voel verlig hoe die warm lug binne-in die gebou om haar vou. Dit is in die middel van die dag, maar die son speel net speletjies in die lug en die sneeu op die grond is yskoud. Vandag is Valentynsdag – haar eerste saam met David.

Sy kyk rond en sien hom reeds by 'n tafel sit. Steeds aantreklik in sy sestigs en standvastig. Haar hartklop bly egalig. Altyd die ware gasheer staan hy op en trek haar stoel vir haar uit. Hy maak eers seker dat sy gemaklik is, voordat hy weer gaan sit en vir hulle wyn bestel.

Vanmiddag is die atmosfeer tussen hulle anders. Sy kan nie haar vinger daarop lê nie. Miskien is dit die soen met die vreemde man vanoggend wat haar eierstokke heeltemal in 'n war het. Sy loer oor haar spyskaart na David. Miskien is dit nie sy nie, want David lyk ook ongemaklik.

“Is daar fout?” vra Greta half ongeduldig. Die voordeel van menopouse is die feit dat jy weet jou tyd op aarde nou veel korter is en elke minuut tel.

“Ek geniet jou geselskap baie, Greta,” begin hy en sy voel hoe haar hormoonvlakke stadig maar seker begin verskuif. Haar vingers klem om die dun steel van haar wynglas.

“Maar?”

“Ek was saam met Rose by 'n besigheidskongres die naweek . . . en ek wil graag eerlik met jou wees.”

“Jou sekretaresse, Rose?”

“Ja, dit het niks beteken vir my nie . . . ” probeer hy weer.

Dit is die laaste woorde wat sy hoor voordat die wyn uit haar glas deur die lug na sy proestende gesig trek. Terwyl hy geskok sy gesig afvee, stoot sy haar stoel driftig agteruit en storm by die trappe van die restaurant af.

Sy voel nie die koue nie; sy is vuurwarm. Sou dit 'n hittegloed wees of net kwaadheid?

Die vermetele swerkater! Sy mooi, jong sekretaresse met die reuse borsmaat en die kort rokkies, selfs in temperature van -40 °F, het uiteindelik gekry wat sy gesoek het.

Wel, voorspoed aan die klein merrie, veg Greta in haar kop. David se verbeeldinglose, selfsugtige liefdestegniek maak beslis nie op vir sy sakke vol dollars nie.

Sy steek haar hand uit en wink 'n geel taxi nader. Sy het skaars sit gekry toe haar selfoon lui.

“Hallo, Cathy,” begin sy, maar dan bars haar hart oop en in 'n stortvloed van woorde vertel sy vir haar vriendin wat gebeur het.

“So 'n ou helsem! En dan sê hulle net vrouens kry menopouse!” roep Cathy vol simpatie uit. “Menopouse vir ou manne beteken net hulle sukkel om te kies tussen motorfietse, rubberklere en jonger vrouens. Ek het 'n goeie idee,” stoom sy voort, “kom ons kry al die ander enkellopende vriendinne bymekaar en ons hou 'n anti-Valentynpartytjie. Ons bring foto’s van ons ekse, plak hulle op my veerpyltjiebord en steek hulle vol gate. Dan maak ons 'n moerse vuur met die foto’s in my kaggel. Ten minste maak dit ons warm en kry ons dan bietjie nut uit die manne.”

“Ek is nie regtig in 'n partytjiebui nie,” sê Greta terwyl sy by die venster uitkyk na die verliefde paartjies op die sypaadjie.

“Kom nou, man. Ons eet net wat ons wil en hoeveel ons wil en drink 'n klomp sjampanje.”

“Nou goed dan. 'n Anti-Valentynsdag. Ons boikot mans, romanse en sommer die liefde ook,” gee Greta in.  

En net daar besluit sy van nou af gaan sy op haarself fokus. Dieet, oefeninge en meditasie soos die kenners op daardie menopousale ondersteuningsgroep op Facebook voorstel.

 

Laatmiddag staan Greta voor die spieël in haar kamer. Sy hou die rooi rok voor haar. Sy moet gereed maak vir die anti-Valentynpartytjie en sy is nie lus nie. Ouderdom is 'n bitch. Sy bekyk haarself krities. Haar bobene is nie meer so ferm soos 'n paar jaar gelede nie en ander anatomiese dele wys meer suid. Maar met onderlaag, 'n bietjie grimering en haar gunsteling rooi lipstiffie is sy steeds 'n mooi vrou. So hoop sy. Wysheid en lewenservaring tel tog sekerlik nog so twee punte op die wêreld se aantreklikheid skaal?

Ag wat, gelukkig is dit winter in New York. Sy kan al die ekstras op haar lyf wegsteek onder ten minste drie lae klere.

Sy maak gou klaar en reël op haar toep vir 'n Uber-saamrygeleentheid. Sy hoop nie die persoon wat haar Uber deel moet te ver weg afgelaai word nie.

Sy trek haar skouers op; sy is in elk geval nie haastig om by die anti-Valentynpartytjie uit te kom nie. Alhoewel sy geweet het dat David miskien nou nie 'n langtermynliefde was nie, sal sy die vriendskap tog mis. En wie wil nou weer die hele drama – of eerder gebrek aan drama – van David oorvertel?

Sy trek haar dik jas aan, draai haar rooi wolserp twee keer om haar nek en trek haar handskoene oor haar vingers. Haar toep wys dat die Uber voor haar woonstel wag en sy stap versigtig oor die ys met die trappies af. Met 'n sug sak sy op die Uber se agterste sitplek neer.

Sy kyk na die man wat die rit met haar deel. Haar oë rek van verbasing. Dis dieselfde aantreklike Texan waarmee Kupido haar vanoggend in die taxi geterg het!

Die eerste glimlag van die dag breek oor haar soos 'n sonstraal na 'n storm. Die warm kyk in sy blougroenes, laat haar hart onwillekeurig ruk.

“Ek wonder al die hele middag hoe ek jou weer gaan opspoor.”

Sy sluk. Jong mans soos hierdie, val buite haar gemaksone. Maar sy was nog nooit bang vir 'n uitdaging nie.

Sy grinnik. “Wel, nou het jy.”

“Het jy `n afspraak of is jy nou my Valentyn?”

Greta sit haar hand op sy gespierde been wat die denim laat span. Sy vroetel met haar vingers hoër teen sy been op tot sy oë begin rek. Dan vra sy: “Net vir vanaand? Ek word nie so maklik verlei nie.”

“Hm.” Hy sit sy wysvinger onder haar ken en hark haar gesig nader. Hulle lippe ontmoet weer. Hy maak die soen dieper, meer intens. Vuurwerke vul die Uber soos Nuwejaar in Times Square.

Skielik is ouderdom net 'n nommer, menopouse net 'n mite en 'n vreemdeling met 'n stetson haar Valentynsprokie.

 

 

 

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page