top of page

Storietyd: Maria se gebede, Marinda Roos


Die eerste sonstrale raak-raak aan die horison. Maria staar na die goue skynsel in die ooste. Die weer wissel van reën na verskroeiende hitte en winde wat die stof aanwaai sodat die rooi aan alles kleef.

Hoe lank nog, Here? Dit is al maande wat hulle in die konsentrasiekamp vas gegrendel is.

Daar heers vanoggend ’n stilte oor die kamp. Haar oë gly op na die hemel. Vandag helder blou. Die swart rok hang los aan haar; die helfte van haar liggaam het weggekwyn. Haar hare ligter, lank en onversorg. Plooie het oor haar gesig versprei, elke lyn die letsel van swaarkry. Bruin, skurwe hande het die porselein wit vel verdring. Sy voel verwaarloos en verhonger. Gisteraand se kos was min. Heeltemal té min. En ongelooflik sleg. Die water is vuil en besoedel. Masels eis lewens, party dae tot agt begrafnisse op ’n dag.

Dit is ’n strafkamp.

Die wind waai stofwolke deur die tente. Tentflappe word genadeloos rond geruk. Later steek die weer op en dit is ’n verligting vir die kampbewoners. Hier klou jy aan elke sweempie hoop vas.

Die galop van perde wat al nader en nader beweeg, laat haar omkyk. Kakies. Boodskappers. Sy herken een van die ruiters. Pieter, ’n gebore boer. Maar nou is hy ’n joiner. Hulle het ander name vir die lamsakkige mans wat eerder by die Engelse aangesluit het as om te veg vir hulle eie volk.

Pieter hou elke beweging van die vrouens dop. Hulle kan net tot by die grensdraad loop. Die spanning van die laaste paar weke was geestelik en liggaamlik net te veel. Sy voel hoe iets in haar swik onder sy blik. Haar voete vind die pad terug na haar tent toe; haar kop het vasgehak. Sy kniel op die grond en ’n snik ontsnap.

“Heer, wees ons begenadig. Gee ons ons daaglikse brood. Vergewe ons sonde, soos ons die skuldenaars moet vergewe. Laat U wil geskied.”

 

Maria kyk oor die groepie mense en soek na Dominee tussen hulle. Die groepie wat verby haar loop, is in rou gehul. Nog ’n kind. Sy moet Dominee bereik voordat hy by die volgende stoet aansluit.

“Dominee.” Haar stem is net hard genoeg om sy aandag te trek.

“Môre, suster Swanepoel.”

“Ek is jammer dat ek pla. Sal Dominee asseblief vir my ’n brief pos?” Maria kyk om haar rond, trek die koevert onder haar belt uit en hou dit vinnig na hom. “Die kommandant het die vorige brief opgeskeur.”

“Ek is jammer daaroor.” Hy neem die koevert by haar, druk dit in sy binnesak en knik vinnig.

Sy loop met die paadjie af en gaan staan voor die groot tent se deur. Hulle versorg die siekes daar binne. Dit is koud tussen die beddens, die komberse is skaars. Ontroerd loop sy van bed tot bed. Vir party is die dood naby.

“Hoe moet ons die werk doen as daar geen medisyne beskikbaar is nie?” Sarah pluk woes aan haar voorskoot. “Hulle het óns in hierdie hool ingedruk.”

Maria kan die haat in haar stem hoor. Vir hulle almal is dit méér as haat. Haar eie man is in gevangeskap geneem en word nou in ’n krygsgevangenekamp in Bermuda aangehou. Sy is in die konsentrasiekamp in Bloemfontein. Hulle was veeboere, is veeboere, wil sy haarself korrigeer.

Liggies maak sy ’n bruinkop seuntjie toe en voel sy koors deur die lakens.

“Die masels neem kommerwekkend toe. Daar is gister agt kinders dood.” Sy gly haar oë deur die tent en haar kennersoog sê daar is minstens vier wat nie vanmiddag die son gaan sien sak nie.

“Here,” bid sy saggies, “help ons asseblief. Wees ons genadig.” 

Hulle is besig om te sterf in omstandighede wat aan barbaarsheid grens.

“Moenie amen sê nie, dan kan ons die hele aand aanhou bid.” Sarah se stem is sag en smekend langs haar.

Teen die tyd wat sy van diens af gaan, is daar twee sterftes. Maria se voete sleep. Twee dae het verloop sedert sy die dokter laas gesien het.

“Daar het ’n klomp krygsgevangenes in die kamp aangekom.” Matrone se stem is saggies. “Hulle is besig om hulle af te laai. Die arme mans is gehawend.”

“Wat gaan hulle met die mans maak?” Dit voel vir Maria of haar knieë onder haar gaan ingee.

“Dokter gaan hulle eers ondersoek en dan gaan hulle in tente verdeel word. Dit was die kommandant se opdrag.”

Teen skemer is die nuwe gevangenes besig om hout bymekaar te maak. Agtuur maak sy ’n draai by Jacoba.

“Daar was gister geen kosvoorraad by die kospunte nie. Ons meel is byna op.” Jacoba se stem is gevul met verontwaardiging en woede. “Daar was niks ekstra te ete nie.”

Maria trek haar asem skerp in “Daar het vanmiddag nog gevangenis aangekom. Hier is skaars genoeg kos vir ons almal. Die kamp word versmoor deur die siektes en ellende.”

“Dokter het verlede week gesê die Kakies val om in die veld. En hy praat nie van die gewondes nie.” Jacoba steek ’n kers aan en druk die oorblywende een onder die laken in. “Die spul goed mor omdat ons die onderste stukkies bymekaar maak. Een kers per aand is heeltemal té min.”

“Dit is Pieter was ons gaan weggee het by die kommandant.” Senuweeagtig vou Maria haar kant sakdoekie op en druk dit in haar rok se sak in. “Hulle gooi dit in elke geval weg.”

“Jy moet vanaand weer vir ons almal bid, Maria. Dit is asof ’n heilige wind oor die kamp waai. Nét as jy bid.” Sy sluk die trane weg en probeer dapper glimlag. “Ons manne is nie genoeg om hierdie spul in toom te hou nie. Daar is blykbaar nóg skepe op pad .”

“Dit is asof duiwels hier losgelaat is. Alles is verwoes.” Maria pluk die kant sakdoekie uit haar rok se sak uit, en vee die trane af wat nou vrylik vloei. “Hulle het ons hele woonhuis en opstal se balke, kappe, deure en rame afgesaag. Elke verdomde boom. Ek het ’n hen met kuikens in ’n buitekamer gehad; die res wat buite was, is almal doodgeslaan.”

“In bloed gemeet, is hierdie prys baie hoog wat ons moet betaal.” Jacoba se stem wurg in haar keel.

“Die gewasse op die landerye het groen gepryk toe die Kakies hulle eerste opwagting gemaak het. Hulle het hulself gehelp met pluimvee, melk, eiers, vrugte en groente. Kamstig ’n faktuur gegee vir elke blerrie ding wat hulle opgeraap het.” Maria trek haar asem diep in en blaas dit weer stadig uit. “Die volgende groepe wat opgedaag het was bekend as die moordbende. Hulle het alles verband. Die landerye, die woonhuis en die skuur. Alles was verbrand, kaal gestroop en verdelg.”

Maria kyk weg. “Ag, jy weet hierdie goed, Jacoba, ek is jammer.”

“Dit maak nie saak nie. Vertel. Vertel weer. Was dit hulle wat jou ingebring het?”

Maria sluk. “Nee, ek en van die werkers het die veld in gehardloop. Ons het voor die tyd kos weggesteek in die grot ’n ent daarvandaan.” Sy verstrengel haar vingers inmekaar en byt haar onderlip raak. “Ons het elke dag drie stelle klere oor mekaar aangetrek. Ons het nie geweet wanneer kom hulle terug en plunder weer nie.”

Die herinnering wurg haar. Sy moet hier weg. Die begrip lê naak in Jacoba se oë toe sy haar groet. Sy vee die trane van haar wange af en stap terug na haar tent toe. Die oorheersende angs en vrees wat nie vir ’n enkele oomblik weggaan nie, is besig om sy tol te eis.

“Suster.” ’n Mansstem is skaars hoorbaar agter haar. “Ek is Dokter de Lange van Bethulie.”

Sy draai na hom. “Maria Swanepoel, bly te kennis dokter.”

“Ken jy ’n man met die naam Adriaan?” Weer die sagte stem.

Haar knieë wil onder haar invou. “Ja, Dokter.” Haar stem is hees. “Waar is hy?”

“Hy is tussen die nuwe gevangenes wat gister ingekom het. Hy wou weet of suster Maria in hierdie kamp is.”

“Sy plaas grens aan ons sin.” Sy sluk. “Is hy gesond?”

“Ja, hy is.” Hy stap tot by die tent se uitgang. “Kom loop gou saam met my.”

Met elke tree wat sy gee, breek iets in haar los. Adriaan het by dieselfde groep aangesluit as Sakkie. Hy sal dalk kan bevestig of Sakkie weggeneem is na Bermuda toe.

“Hy is agter die houtstapel. Jy het vyf minute.” Dokter de Lange se stem is smekend.

Hulle mag nie eintlik met die mans gesels nie. Dit is teen die kamp se reëls. Sy het vanoggend gesien die kommandant en van sy troepe is te perd uit die kamp uit.

Haar stem is saggies. “Adriaan?” Sy gee twee tree nader.

“Maria!” Hy gryp haar om die skouers. “Maria,” uiter hy. Sy stem is met emosie gelaai.

Sy wikkel haarself los. “Hoe gaan dit met jou?” Haar oë is vol trane.

“Ek het vir maande oorleef in die veld. Tot verlede week kon ek die Kakies se kloue vryspring.” Hy glimlag effens. “Ek het by Vredefontein myself vasgeloop in die klomp Engelse.”

“Waar is Bertha?” Haar hart klop onstuimig.

“Ek hoop sy is nog op die plaas. Die kere wat ek teruggekeer het, was sy daar. Sy kon elke keer die spul ontglip het.”

Sy byt haar onderlip vas. “En Sakkie?” Sy vleg haar vingers inmekaar. “Is hy Bermuda toe? Daar was gerugte dat hulle gevang was deur die Engelse.”

Sy sien die huiwering op sy gesig. Dan die frons wat verskyn. Hy skud sy kop.

’n Snik glip uit haar lyf. “Leef  Sakkie? Leef hy nog?”

“Ek glo nie so nie. Die groep waarin hy was, het gesneuwel by Springfontein.”

Haar voete beweeg vorentoe, dan agtertoe. Iewers praat iemand. Die sis geluid in haar ore word al hoe harder. Sy hou haar asem op, sy hou die trane terug totdat sy in haar tent neerval.

“Here ... nee ...” Rou snikke breek los.

 

Maria se swart romp en baadjie sit los om haar maer lyf. Vanoggend se diens word weer in die opelug gehou. Die laaste vier weke het sy nie die diens bygewoon nie. Dit was nog té stukkend. Dominee blaai deur die Bybel en sy stem is sag toe hy uit Sagaria lees. Hoofstuk agt, verse vier en vyf.  Die Here sê in Jerusalem sal daar weer bejaarde mans en vroue op die pleine sit en die stad sal vol kinders wees wat speel.

Hy lees vers dertien weer. “Vrees niet. Laat uwe handen sterk zijn.” Trane rol oor haar wange toe hy die Onse Vader bid.

“Here” bid sy saggies, “moet ons asseblief nooit verlaat nie.”

Sy moes ingesluimer het, want die son in die weste is in rooi gehul op die horison. Later, toe die son sy kop wegtrek, daal daar ’n stilte oor die kamp neer. Is dit hoe dit voel om lewendig dood te wees? Maria staan op, stap tot by die tent se opening en tuur oor die kamp. Haar voete vind die paadjie en sy stap tot by Jacoba se tent.

“Jacoba, mag ek inkom?” Sy haal diep asem en vroetel met haar voorskoot se een sak.

“Maria, kom in.” Haar stem is vriendelik. “Ek het jou kuiertjies gemis.” Haar oë gly oor haar. “Hoe gaan dit met jou?”

Sy knik. “Beter dankie.”

“Het Adriaan jou die storie vertel van die een boer wat ’n Kakie doodgeskiet het?”

Maria skud haar kop. Adriaan bring net slegte nuus. Sy wil nie nou met hom praat nie.

“Een van die manne wat saam met hom in gevangeskap geneem was se pa het ’n Kakie doodgeskiet. Hy het sy klere, geweer en ammunisie geneem en vir maande tussen die Engelse rondbeweeg. Hulle weet nou nog nie hoe hy dit reggekry het nie. Hy was ’n bebaarde takhaar wat nie ’n woord Engels kon praat of verstaan nie.”

“Regtig? Het hulle hom uitgevang?” Maria staan effens nader.

“Ja, die Engelse het hom vasgetrek en aangekla as ’n spioen. Hy het die doodsvonnis gekry.”

Maria kyk met groot oë na haar. “Is hy tereggestel?”

“Die doodsvonnis was vir een of ander rede teruggehou. Hy mag nooit weer ’n wapen optel nie. Adriaan-hulle vermoed hy het by ’n laer aangesluit onder die beskerming van president Steyn.” Jacoba trek ’n sakkie onder die matras uit en hou dit na haar. “Ek het nog so ʼn paar gedroogte perskes. Neem vir jou een.”

Maria haal een uit die sakkie uit en neem ’n klein happie. “Dankie.” Sy proe elke lekkerte op haar tong. “My beskuit en biltong is lankal klaar.” Sy sug gelate.

Later stap sy terug na haar tent toe. Dit is ’n lieflike windstil aand. Maria kyk op na die sterrehemel. Sy drink elke stukkie skoonheid daarvan op. “Al gaan ek in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my; u stok en u staf dié vertroos my.”

 

Met die aanbreek van die herfs is die luggie geniepsig. Gelukkig is daar nou ’n klerebank wat gebruikte klere verskaf en die komberse wat uitgedeel word, is ook meer. Die vorige nag was daar ’n verwoestende stormwind en van die tente het omgewaai. Dit ook nog. Maria het niks geslaap nie. Sy is gedaan.

“Maria, jy moet klaarmaak. Ons moet by die eetkamer byeenkom.” Jacoba se stem ruk tot in haar binneste.

Sy het verslaap. Vinnig trek sy aan en loer vinnig in die spieëltjie, vee oor die kreukels van haar rok en stap met die voetpaadjie af eetkamer toe. Die kamp is in beroering. Wat gaan aan?

’n Engelsman staan nader. Die embleme op sy bors wapper soos blaarslaai.

“There is an important announcement to make.”

Daar is skielik stilte.

“Peace has been declared. The war is over!”

 Haar hart bons wild in haar binneste. Is dit hoe dit voel?  Haar bene gee onder haar mee. Haar verstand het agter gebly. Sy woorde ego tot in haar binneste.

 

Maria se oë gly oor die mense in Bloemfontein se plein. Die waens het hulle vanoggend vroeg afgelaai. Die kamp vir eers vergete.  Sy is besig om spoke te sien. Elke tweede man lyk soos Sakkie.

“Maria, my vrou ...” Sakkie se woorde droog op.

Sy steek vas. Kyk in die rigting waar die stem vandaan kom.

Dit is hy. Dit is sowaar hy.

“Sakkie!” Sy storm die trappies af.

Hy kom aangehardloop en vou haar toe in sy arms.

“Jy lewe, jy is hier!” Rou snikke vul haar binneste en sy klou krampagtig aan hom vas.

Later stoot hy haar effens weg en bekyk haar van kop tot tone. “Maria, weet jy hoe bly is ek om jou wéér te sien.”

Hy soen haar saggies. Gulsig bied sy haar lippe aan en die soen verdiep. Na wat soos ’n ewigheid voel, verslap hy sy greep effens.

“Sakkie.” Dit is haar beurt om hom op te som. Sy lyf is heelwat maerder. Sy gesig en  arms is bruingebrand.

“My liefste Maria.” Sy stem is hees. “Die klomp Engelse het ons vasgetrek naby Springfontein. Ek is só dankbaar ons albei leef nog.”

“Ek het elke dag gebid.”

’n Sug vou hulle toe en sy streel met haar hand oor sy wang.

Hy tel haar op, swaai haar in die rondte en pik ’n soentjie op haar wang. Hy neem haar hand in syne en hulle stap deur die plein na die kerkterrein toe. Hy huiwer ’n oomblik, kyk oor die verskroeide landskap en sug. “Klomp verrotte, agterbakse goed.”

Die hitte van die koolstoof in die pastorie se kombuis, vul die vertrek heerlik warm. Maria skuif gemakliker teen Sakkie se lyf.

“Nadat die eerste Engelse troepe op die plaas was en hulself gehelp met voorrade, het ek en die werkers van die meubels in die droë sementdam gaan wegsteek. Die een naby die huis was ’n trekpleister, maar hulle het nie geweet van die een bo by die koppie nie. Ons het dit toegemaak met sinkplate.” Sy snork onvroulik en ’n glimlag vorm op haar lippe. “Ek het mielie- en koringsaad ook daar weggesteek. Van ons klere, linne en kombuisgoed.”

“Ons het reggemaak vir net ’n paar dae.” Sy stem breek in stukke. Hy vee die hare uit sy gesig uit, neem die beker koffie by haar en neem die eerste sluk. “Die wat tot die einde geveg het, word nou glo Bittereinders genoem.”

Hy kyk lank en stil na haar. “Hoe het jy dit gemaak, Maria?”

“Ek het gebid.” Sy glimlag dapper.  “Party dae het dit gevoel of ek die hele dag aanmekaar bid. Ons het almal by die dood omgedraai.”

Hy neem haar hand in syne en vee saggies met sy vingers daaroor. “Wanneer jy bid, Maria, gebeur daar iets in die hemele.” Sy oë hou hare gevangene. “Het jy die Familiebybel ook weggesteek?”

Sy knik. “Onder die Kareeboom.”

“Biesiesfontein gaan weer ’n spogplaas word.  Ons sal die woonhuis weer tot sy volle reg restoureer en die krale herbou.”

Sakkie maak die Bybel oop en kyk na Maria. “Ek sal ’n stukkie lees dan doen jy vir ons ’n gebed, my liefste Maria.

“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weiveld; na waters waar rus is, lei Hy my heen.”

 

 

 

 

 

Die storie is opgedra aan my oumagrootjie, Maria Gertruida Swanepoel, wat as jong meisie saam met haar ma in die konsentrasiekamp aangehou was.

 

 

 

 

 

 

58 views0 comments

Recent Posts

See All

Комментарии


bottom of page