top of page

Storietyd: Kamer 21, Elana Brand

Die metaal van die tralies is koel ander Tanya se hande. Sy gly haar hande op en af oor die silindervorms. Die son se weerkaatsing teen die venster maak dit moontlik om iets van haar vorige skoonheid in die glas te sien. Maar jy moet weet waarvoor jy kyk. Die seegroen oë wat nou so diep ingesink in hulle kaste lê, was op 'n tyd betowerend. Haar eenmaal vol lippe nou net twee lyne wat wegraak tussen die ander plooie. Tanya maak haar oë toe en verbeel haar sy trek haar longe vol vars lug, maar die bedompigheid van die vertrek steek vas in haar keel en sy maak haar oë weer oop. As die ruite tog net kon oopmaak.

Tanya skrik toe sy beweging agter haar hoor. Maar dis net Siska. Die kind draai 'n fyn, blonde sliert hare om en om haar klein vingertjie. Siska pas nie goed hier aan nie. Sy verlang na haar blommetjies duvet, haar lipgloss met die blinkers in en haar lappop, Annerie.

“Hoe lank moet ek nog die geheime hou?”

“Ag nee, man. Jy moet ophou hiermee, Siska.”

“Ek verstaan nie hoekom ek nie vir die vriendelike oom mag vertel nie. Hy sê hy is my maatjie.”

“Ek is jou enigste maatjie, Siska!”

Tanya sluk hard. Kry weer haar emosies onder beheer. Dit is nie altyd maklik om vir albei van hulle sterk te moet wees nie. Sy het deernis met Siska; sy is immers net sewe jaar oud. Maar sy vertrou te maklik en glo nog in die goeie fee.

“Siska, die oom is nie regtig vriendelik nie, hy maak net asof hy is.”

“Maar die oom sê as ek hom vertel ... gaan die lelike drome weggaan.” Haar woorde kom uit as 'n gehakkel.

“Die oom jok! As jy met die oom gaan praat dan sal ek en jy nie meer saam kan wees nie? Is dit wat jy wil hê?”

Siska se lippie begin bewe. “Moet my asseblief nie hier alleen los nie.” Siska gooi haar tingerige armpies om Tanya se lyf. “Ek raak baie bang wanneer ek jou nie kan kry nie.”

“Ek moet soms vir rukkies weggaan, maar het nog altyd terug gekom vir jou, het ek nie?”

“Ja,” sê Siska skaars hoorbaar.

“Wat moet jy doen as jy my nie kan kry nie?”

Siska kyk na die vloer en byt haar onderlip. “Wag by die pienk boom.”

Sou dit nie maar beter wees as hulle Siska wegvat nie? Dis lekker om iemand te hê om mee te praat, veral omdat almal onder die indruk is sy is stom. Maar sy sal weer op haar eie regkom. Sy het nog altyd. Vir so lank as wat sy kan onthou moes sy uitkyk vir haarself. Daardie dag ook.

 

Sewe minute. Die tydsverskil tussen Tanya en Kevin se geboorte. Sy 'n gesonde 2, 8 kg en hy 'n skrale 1, 1 kg. Drie maande in die broeikas. Seker die enigste tyd wat sy haar ouers se aandag gehad het. By die huis het Kevin almal se energie gemonopoliseer. Allergieë, asma en koors het van hom 'n voltydse werk gemaak. Sy troefkaart was om op te hou asemhaal. Regte aandagvraat. Wie sou nie 'n ongesonde haat vir hom ontwikkel nie?

Kevin was altyd onder Ma se oë. Behalwe die een dag.

Hulle was vyf. Dit was winter. Ma het hulle handdoeke warm gemaak in die tuimeldroër.

Later by die hospitaal het Tanya met groot oë geluister hoe die grootmense oor haar kop praat met haar Pa in die gang. “Meneer Viljoen, ongelukkig moet ons aandring dat julle die maatskaplike werker hier by die hospitaal sien.”

“My vrou het hulle vir 'n split sekonde alleen gelos! Sy is party dae bietjie moeg, maar sy is 'n goeie ma!”

“Meneer Viljoen, niemand insinueer jou vrou is 'n slegte ma nie. Om twee vyfjariges alleen in die bad te los, kan egter as nalatig gesien word.”

Tanya het om die deur geloer en haar ma langs Kevin se bed gesien waar sy met haar kop op haar arms lê en huil. 'n Snaakse masker met 'n pyp was oor Kevin se gesiggie. Sy het langs haar ma gaan staan. Haar ma het eers opgekyk toe die dokter saam met haar Pa instap.

“Liefie, wag jy gou vir ons buite. Oom Dokter wil alleen met Mamma en Pappa gesels.”

Met hulle rûe na haar het hulle begin praat sonder om te wag dat sy by die deur uit is.

“Daar is ongelukkig geen manier hoe ons kan sê wat hierdie trauma op Kevin se reeds kwesbare longe en immuun gaan hê nie.”

Haar ma se lyf het begin ruk. Haar Pa het sy arm om haar skouers gevou en na hom toe getrek. Sy wou deel wees van die drukkie en het nader geloop.

“Wag buite, Tanya!”

Een van die susters wat haar sien huil het, het by haar kom staan. “Toema, Skattebol, as alles goed gaan sal jou boetie more kan huis toe gaan.” 

Kevin het die volgende dag long ontsteking gekry. Groot verrassing.

Twee jaar later het Kevin se geluk uitgehardloop.

Dit was somer. Hulle het geswem. Ma op die rand van die swembad met haar bene wat afhang in die water. Die telefoon het gelui.

“Bly in die vlak kant, hoor? Mamma is nou terug.”

Hierdie keer was daar genoeg tyd. Altyd gehoorsame Kevin was in die vlak kant toe ma terugkom. Hy het op sy maag gedryf.

Ma se histeriese gille het gesorg dat daar binne oomblikke 'n gehoor van mense was.

“Wat het hier gebeur?” Haar ma het gegil terwyl sy haar aan haar skouers pluk. Dit was duidelik in haar ma se oë: sy sou nooit verstaan nie.

“Natuurlik kon hy swem,” het haar ma gegil toe die ambulans en later die polisie opdaag.

Sy het dieselfde dag ophou praat.

“Ek mis vir Mamma.” Siska se twee glaserige ogies knip vinnig.

Tanya vergeet soms dat Siska dinge anders onthou. Hoe vertel sy vir haar dat dit juis haar ma se skuld is dat hulle sit waar hulle sit?

“Moenie huil nie, asseblief. Ek sal bietjie saam met jou inkleur as jy wil?”

“Okei,” sê Siska snik-snik.

Tanya gaan haal die inkleurboek en kryte. “Kies jy 'n prentjie en dan kleur ek die prentjie op die bladsy langs joune in.”

Hulle gaan sit op die een enkelbed in die vertrek. Vinnig is Siska se aandag op die ponie wat sy met haar pers kryt begin inkleur. Sy bly nog nie binne die lyne nie.

Na Kevin se dood was die hospitaal se aanbeveling dat 'n maatskaplike werker gesien word nie net meer 'n voorstel nie, maar 'n verpligting. Die dom vrou het alles verkeerd gehad en het besluit Tanya moet vir 'n ruk by haar ouma en oupa gaan bly.

Die dag wat ouma Elize en oupa Willem haar kom haal het, het sy gehardloop na waar haar ma opgekrul gelê het op Kevin se bed. Sy het met haar oë gesoebat dat haar ma opstaan en die fout regstel, maar haar ma se oë het net stip voor haar gestaar.

“Die kind kán praat,” het oupa volgehou. “Sy hou haarself net aspris.”

“Dis tydelik. Gee haar tyd,” het ouma aan die begin verdedig.

“'n Pakslae, dis wat die kind nodig het!”

Voor ouma het oupa haar geslaan totdat sy artritis dit nie meer kon hou nie. Maar sy weet oupa se groot teleurstelling was dat dit wat hy gedoen het wanneer ouma nie sien nie, ook nie die praat uit haar kon dwing nie.

Sy het gedink ouma sou dankbaar wees dat oupa per ongeluk 'n kasjoe neut geëet het terwyl sy by die mark was.

“Waar het die neut vandaan gekom?”

Tanya het haar skouers opgetrek.

“En waar was oupa se EpiPen?”

Weer het sy haar skouers opgetrek.

Ouma se gesindheid teenoor haar het oornag verander. Ondankbare ou vrou. Om te dink sy het oorweeg om weer te begin praat na oupa se dood. Ouma het dit nie verdien nie. Sy is twee weke later dood aan 'n beroerte.

“Kan jy nie net vir mamma sê jy is jammer nie?”

“Mamma is nog te kwaad.” Wat nie 'n prontuit leun is nie. Woede moes sekerlik bygedra het tot haar ma se besluit om haarself op te hang.

“Kom ons dink aan watse hondjie ons vir jou gaan koop as ons hier wegkom.”

Siska se gesiggie helder op. “'n Skaaphond!”

Tanya se lyf verstyf.

“Onthou jy dat ons 'n skaaphond gehad het toe jy 'n baba was?”

“Regtig?”

“Ja, sy naam was, Lassie.”

Tanya dink 'n oomblik. Wat sou van Lassie geword het?

“Het jy ... het jy hom ook dood gemaak?” Die laaste woorde 'n fluistering.

“Hoekom sal jy so iets vra?”

“Dis net ... die oom ...”

“Wat van die oom?”

“Wanneer hy my vra oor jou ... hy sê jy het lelike dinge gedoen.”

“Die oom weet nie waarvan hy praat nie!”

“Hy vra my wat van boetie geword het.”

“Wat sê jy dan?”

“Dat ek nie kan onthou nie, maar jy onthou, né?”

Tanya vererg haar. “Hy was baie stout. En stoute kinders moet na die duiwel toe gaan.”

“Is dit waar hy nou is?”

“Ja.”

Die stilte rek tussen hulle. Siska begin weer inkleur.

Verlig blaas Tanya haar asem uit. Krisis vrygespring. Vir nou.

Die geluid van rubber wieletjies op teëlvloer raak al hoe duideliker. Dan draai daar 'n sleutel in die deur.

“Sjuut, hier kom die suster.”

'n Vaal vrou in 'n wit uniform maak die deur oop. Sy moet nuut wees, want Tanya het haar nog nie voorheen gesien nie.

“Middag.” Sy haal 'n klein ronde plastiek houertjie van die trollie af en gee dit vir Tanya.

Tanya tel die skryfblok op wat op die bedkassie lê en skryf: Hoeveel van hierdie is vir my en hoeveel hiervan moet Siska kry?

Verward kyk die Suster in die kamer rond. Sy tel haar lêer op. Lees die papier. Loop tot by die deur, kyk na die nommer voorop. “Dis kamer 21,” sê sy vir haarself. Dan kyk sy na Tanya. “Is jy Tanya Fourie?”

Tanya se knik beaam dit.

“Dan is al hierdie joune.”

Die suster gooi 'n glas vol water en hou dit uit na Tanya toe.

Tanya sluk die pille.

Die suster trek die deur toe en die sleutel draai weer in die slot.

Hulle wag tot die geluid van die trollie se wieletjies uitdoof voor hulle weer praat.

“Hoekom maak die tannies altyd of hulle my nie sien nie?”

“Moenie bekommer nie, Siska, van wat ek nou al gesien het, is al die mense hier in die psigiatriese saal lekker mal.”

37 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page