top of page

Storietyd: Die glips, Suna Verhoef


Ek het nie bedoel om die kind die skrik op die lyf te jaag nie. Dit was ’n glips. Sy glips, bedoel ek. En seker myne ook. Maar die insident het nie gebeur omdat hy geskrik het nie. Al was daar fluisteringe in die gange. Eintlik was die oorsaak van die glips iets heel anders.

Ek was vars in die onderwys net so drie maande uit universiteit en die enigste beskikbare pos was by ’n vaardigheidskool op die rand van die Kaap se berugte informele nedersetting, die Kaapse Vlakte. Die vaardighede waarop gefokus is, was paneelkloppery, houtwerk, haarkappery en motorenjins. Sekere leerders was egter ook baie vaardig in lui-wees, dagga-rook gedurende pouses, messe in smokkel en soms ’n onderwyser se bande ’n lekker sny of twee gee as ’n man nou nie so goed gedoen het in die toets soos hy gehoop het nie.

Ek was, om die minste gesê, elke liewe dag oorstuur. Skool- en universiteitsdae – daardie lieflike watte bestaan omring deur gehoorsame, gedienstige en hardwerkende maters – was ’n  vergange droom.  Tydens die meer as 30 km werk toe ryery het ek myself elke dag probeer motiveer en moed in praat, en musiek gespeel wat my enersyds kalmeer en andersyds bietjie woema gee. Verder was daar baie selfmotiverings: “You can do hard things.”

Een ding waarmee ek baie gesukkel het, was natuurlik dissipline. Die manne was lank. Al was hulle tegnies in graad 9, was party al manne van in die twintig.

My leliewit grootwordjare het my ook nie voorberei op al die kulturele verskille en dialekte van die Kaapse Vlakte nie en ek moes gereeld vir kollegas vra vir die vertaling van gesegdes soos “jy maak jou laat” wat te doen het met “jy sal jou wat verbeel” en niks met vader tyd nie. Kortom, my kop het gedraai, my hart was meermale in my skoene, my nerwe was gaar en ek het vreeslik braaf probeer wees.

So het my kollegas my dit op die hart gedruk dat ek nie sommer moet instem dat ’n kind badkamer toe kan gaan nie. Hulle moenie die oorhand kry nie; ek moet gesag handhaaf. Dit was moeilik, want aanvanklik het ek maklik ja gesê, maar na die soveelste lesing deur ’n kollega wat my meerdere in dissipline was, het ek toe maar besluit ek beter dit probeer, die bietjie meer hardegat-wees ding.

Toe sê ek nee. Vir Craig Stuurman.  

Ek was van die begin af ongemaklik met dié Craig-seun. Hy was vir my ’n puzzle. Hy was so wit soos ek, maar het gepraat soos ’n man wat op die Flats woon. Ek kon nie agterkom of hy nou maar net so praat agter sy pelle aan en of hy eintlik met my spot nie. Ek was mos maar dun van vel en paranoïes, so ek kon net nie lekker met die man cope nie.

Later het ek besef hy was een van die skrynendste voorbeelde van die waansin van apartheid: Hy was so wit soos ek, maar hy was in hart en siel en alles wat saak maak bruin.

Dit is nie asof Craig onbeskof was nie. Ek het eintlik van hom gehou. Hy was vriendeliker as die meeste. Hy het mooi gevra om badkamer toe te gaan. Maar dit was mos nou Dié Dag. Die dag wat ek Gesag Moes Handhaaf. Toe sê ek toe sommer twee, drie keer vir Craig “nee”.

En met die derde “nee” vlieg Craig uit sy sitplek en snel uit daai klas en soos hy uit die deur hardloop, sien ek en die res van die klas dit: Sy broek het ’n vieslike kol by die boude rond.

Ag, liewe vadertog. Die een flippen dag wat ek besluit ek gaan gesag handhaaf. Hoe moes ek raai dit was toe net mooi die dag wat Craig Stuurman se vrinne besluit het hulle jaag hom Brooklax in saam met sy oggend se blikkie Coke?

Toe is sy bynaam vir die res van sy skoolloopbaan Craig Kakbroek.

En ek?

Daar was nie ’n manier dat ek weer vir ’n kind “nee” sê as hulle badkamer toe wou gaan nie. Daai glips sou ek nie weer maak nie.  

31 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page