top of page

Storietyd: Die bumper sticker, Marinda Roos


Maandae is blou. Daar is geen ander kleur om dit te beskryf nie. Die ander dae van die week het nie ’n kleur nodig nie. Net Maandae. Blou is die kleur van neerslagtigheid. Winter is ook blou. Donker vlieswolke en die skaarsheid van die son. Ek loer ongeduldig na my horlosie en trap die petrolpedaal dieper in. Behendig vleg ek deur die motors na die opening toe. ’n Mens moet liefs die spitsverkeer op ’n Maandag vermy.

’n Paar meter vorentoe gaan my rooi Franse wonderwerkie se petrolliggie aan. Dit pla my nie veel nie. Ek kan nog veertig kilometer ry. Maar skielik hik die karretjie een keer en daar gaan staan ek op die N4. Ek draai weer die sleutel, maar die enjin gee nie eers ’n grom nie. Motors blits verby my. Toeters blaas. Ongeduldig maak ek die veiligheidsgordel los en pluk die deur oop. Motors vlieg verby en ek spring terug in Belle se veilige ruimte in. Nou moet ek bid  vir ’n wonderwerk.

’n Bakkie met ’n rooi lig is binne tien sekondes langs my. My pa sou die bakkie beskryf het as ’n geroeste blik op vier wiele.

“Wat is fout? Kan ek dalk help?”

Die onbekende man se overall is met olie besmeer. Hy vee sy vuil hande met ’n vuiler lap af. Die Benson & Hedges sigaret word vasgeknyp tussen sy twee lippe.

Ek sug twee keer. “Wat sal dit kos om my motor in te sleep?”

“Ses honderd rand, flat rate.” Hy glimlag effens. “By the way, ek is Piet.”

“Adelle.”

Ek maak vinning somme in my kop. Die maand is nog lank. Ek maak kleipotte en keramiekbekers, nie Michael Angelo meesterstukke nie. Die verkeer op die N4 lyk nou soos ’n byenes.

“Oukei, drie honderd rand vir jou.”

Hy glimlag nou breed. Daar is beslis vyf tande kort in sy mond. “Weet jy van sleep?”

“Nie eintlik nie.”

“Hans, kom help hier!”

Die man wat aangestap kom ruik asof ’n vis hom heel ingesluk het. “Ry jy haar kar. Sy kan sommer by my inval.”

Ek hol na Piet se bakkie toe, klim in en klap die deur toe. Die deur bons weer oop.

“Jy moet hom hard moer,” verduidelik Piet langs my.

Die rit na my huis toe duur gelukkig in stilte. Die insleepbakkie gee kort-kort ’n hoes en dan ’n proes. Ek hoop net nie Erik is voor my by die huis nie. Hy het my al ’n honderd maal gewaarsku ek gaan nog eendag sonder brandstof staan. Ek wil mos nie hoor nie.

Ek hou my asem op totdat ek die oprit sien. Dit is leeg. Geen motor nie. Ek sug behaaglik. Erik is nog nie tuis nie.

Piet wikkel die tou vinnig los en ek sit die drie honderd rand in sy vuil hand.

Hy grinnik.

“Dankie,” groet ek beleefd en suiker die huis binne. Buite in die straat skiet die knaldemper van Piet se bakkie twee keer pad af. Ek het koffie nodig, baie sterk koffie. 

Ek is al besig met aandete toe Erik se Land Rover in die oprit verskyn.  Skielik draai my maag. Ek glimlag dapper, maar selfs dit voel vals.

“Hallo mooiste,” groet hy en plaas sy sleutels op die toonbank neer. “Hoe was jou dag gewees?”

Kan hy nou skielik gedagtes lees? Hy vra nooit hoe my dag was nie.

“Dit was ’n besige Maandag. Blou, soos altyd.” Ek hou my stem so kalm as moontlik.

“Het jy sonder brandstof gaan staan?”

“Nee, hoekom vra jy?” Ek byt my onderlip raak en verwens vir oom Hannes. Hy was besig om sy tuin nat te spuit toe die rumoerige insleepbakkie in die straat afgekom het.

Hy grinnik en gooi vir hom ’n whiskey met net ys in.

Ek hou hom onderlangs dom. Die glimlag op sy bakkies het nog nie verdwyn nie. Ag flip, die waarheid moet maar uitkom. Bieg is beter as voorhou.

“Ja, okei, ek het sonder brandstof gaan staan. Op die verdomde N4.” My moermeter het nog nie afgekoel nie. “Maar hoe weet jy ek het sonder brandstof gaan staan? Het oom Hannes jou gesê?”

Hy pik ’n soentjie op my voorkop en stap die gang af. “Daar is ’n pragtige bumper sticker agterop jou motor geplak,” roep hy oor sy skouer.

Ek wil my eers vererg en noem dat ek nie my motortjie toeplak met allerhande stickers nie. Ek het ook my trots. Maar die nuuskierigheid het my beet en voordat ek my kan kry, snol ek na buite toe.

En daar is dit toe. Die bumper sticker. Op arme Belle se agterkant geplak.

Piet se insleepdiens – I’ll get you moving

66 views0 comments

Recent Posts

See All

Commenti


bottom of page